Ek moet nou diep krap in my gedagtes om hierdie bal te laat rol. Januarie 1973 meld ons aan by die treinstasie agter die Milnerpark skougrond in Braamfontein.
Pa en Ma laai my af en staan seker daar rond en wag vir al die ouens om op die trein te klim. Uiteindelik vertrek ons na bestemming Voortrekkerhoogte.
Daar aangekom is dit eers aantree langs die spoor en daarna loop na 1 Seinregiment wat ons woning sal wees vir die volgende paar weke / maande.
Hare word geskeer,uniforms word uitgedeel, gewere gegee en al die goeters wat ‘n roof maar moet kry. Gelukkig is ek en Berrie (Bernard, ou skoolpêl al van laerskooldae af) in dieselfde Troep en Bungallow. My ander pêl Barry (Bartel) is ook êrens in die kamp. Die kos is maar goor maar eet moet mens eet.
Hier begin my tydlyn alreeds deurmekaar loop. Ek kan nie onthou of die her-eksamen (F vir Wetenskap) of die skietery in dei veld eerste was nie.
Ek het ‘n langnaweek pas gekry om Wetenskap oor te gaan skryf, met die oog op universtiteitsvrystelling, sommer vroeg – sê maar dit was in Januarie dan was die kamp laat Januarie. Ons eerste naweekpas sou eers na ses weke wees.
In elk geval – die eerste kamp. Ons is almal agterop Bedfords gelaai en êrens buite Pretoria gaan aflaai. Slaapplek was tente, gemaak van twee grondseile wat gelas is en waarin twee van ons slaap. Een of ander tyd begin dit reën en die water loop van bo na onder deur ons “tent”. Slaapsakke en klere is papnat. Ek is nie beindruk nie. Met die skietoefeninge neem ek ‘n klip en slaan my bril se een lens stukkend. Die gevolg – na ons terug is by die basis (1 Sein) kry ek weer langnaweekpas om my eie oogarts te besoek vir ‘n nuwe bril.
Nou wag ons almal vir ons eerste amptelike naweekpas.
Filed under: Uncategorized