Ons eerste skietoefeninge was êrens in die veld terwyl ons op een of ander kamp was waar dit amper heeltyd gereen het. Wat ek voorheen nie gesê het nie is dat jy, pas uit die skool, ‘n (in ons geval) R1 (geweer) in die hand gestop word. Die moet jy natuurlik naderhand met toe oë kan uitmekaarhaal en weer aanmekaar sit. Dit het ek darem reggekry. Jy mag ook nie in Engels praat van jou “gun” nie dan was jy in groot moeilikheid. (Ek onthou nog die rympie – “This is my rifle and this is my gun. The one is for shooting the other for fun”.)
Die volgende skietoefeninge het plaasgevind buite Voortrekkerhoogte. Ek het in my kop die naam Rashoop maar dink nie dit is die regte plek nie. Ewenwel, ons lê aan op die grond en skiet na die teikens wat ‘n hele ent voor ons opgestel is. Later ruil van ons om met die in die skietgat. Na elke rondte geskietery word die gaatjies op die teiken toegeplak. Die plakkers was gespaar op my teiken!
Ek onthou nie hoeveel punte jy moes kry nie maar ek het dit nie gemaak nie. (Jo-Ann sê van die skietery: (Op ‘n heel ander tyd as ek) “Ek was wild met R4 skiet. Verder as 100 het die ouens ‘n mexican wave in die skietgat gemaak elke keer as ek die teiken raak geskiet het. Gelukkig was ek ‘n penpusher so die oorlog het nie van my skietvermoë afgehang nie.”)
As ek so na Jo-Ann luister was 100 die magiese syfer.’n Hele klomp van ons het dit nie gemaak nie en moes terugloop na VTH. Met die dat ons by die Garrison(?) (die VTH stadsaal) verby loop, is dit omtrent net die tyd vir die aand se film om te begin. ‘n Paar van ons het eers gaan fliek voor ons terug is na die kamp. Ondertussen is daar al voertuie uitgestuur om ons te gaan soek. Ons storie was maar dat ons die ander pad geloop het.
Filed under: army | 1 Kommentaar »